Die pad na self-publikasie - Deel 1: My storie en die publikasie proses

Die pad na self-publikasie - Deel 1: My storie en die publikasie proses

Dit het alles begin toe ek 16 was. Ek het ‘n gedig geskryf in een van my klaskamers, ek het ‘n knop in my keel gekry toe ek dit teruglees vir myself en kon dit amper nie hardop lees vir ‘n vriend nie. Dit het my laat besef dat iets baie spesiaal aan die gebeur is, en ek was mal oor die gevoel. Ek wou net aanhou skryf, oral en heeltyd, oor alles. En ek het. Ek het ‘n eenvoudige joernaal vol ‘scapbook’-goedjies gehou en dit was vol briewe, gedigte en observasies. My hart het gebloei op die papiere en ek het vrede gevind om te laat gaan van dinge wat ek nie kon verstaan nie. Dit was ‘n veilige plek vir my waar ek gevoel het, ek word verstaan, al was ek die enigste een wat dit gelees het. Ek het nie omgegee of my digkuns goed was, op standard was of aanvaarbaar was vir die buite wêreld nie. 

Ek het aanhou skryf deur my studente-jare en gedroom om my eie boek eendag te publiseer. My skryfwerk was baie spontaan, ek het geskryf wat op my hart was, wat my geroer het deur die dag of dinge wat ek wou bevraagteken. Ek het geen idee gehad hoe dit sou lyk of watter tema ek wou gebruik vir ‘n boek eendag nie, die droom was werklik net om te publiseer. Ek het net aanhou glo dat die droom eendag gaan waar word. 

Jare het verbygegaan, my digkuns het verander gebasseer op my ervaringe. Daar was ‘n tyd waar ek glad nie kon skryf nie omdat ek so gebroke en alleen was, en ander kere was die lewe so besig dat ek nie daarby uitgekom het nie – of eerder nie tyd gemaak het daarvoor nie. Ek het toegelaat dat ander dinge belangriker geword het as om net die kuns te geniet vir wat dit is. Stadig maar seker het ek weer begin skryf en myself verloor in my woorde. 

Kom ons ‘fast-forward’ na die rede hoekom ek my eerste boek geskryf het. En die ‘rollercoaster’ waarop ek was tot op hierdie punt. 

Ek het my mens gevind, die liefde waaroor ek nog altyd gedroom het en my hele wêreld het verander. Die liefde was anders, dit het my uitgedaag en my laat bevraagteken wat ek regtig in glo. En dit was teen wat ek geleer was.

Ek het besluit om met die liefde te hardloop, en ‘n deel van myself op te offer, ‘n deel wat ek nie meer herken nie. Jy sien, die liefde was nie welkom nie omdat dit anders lyk as die liefde wat jy in my wêreld sou vind. En dis hoekom ek gekies het om my wêreld te verander na een waarvan ek wou deel wees. 

Om die bogenoemde te verstaan, kort jy ‘n bietjie meer detail. Die liefde wat ek gekies het, was ‘n kombinasie van twee verskillende kleure, dit was nie aanvaarbaar nie en het gelei na ‘n verlies van baie verhoudinge. Dit het ook gelei na moeilike gesprekke, harde woorde en ongemaklike fisiese ontmoetings. En in ruil lewer dit ‘n boek op. Maar die boek gaan nie net oor die moeilike tye en teëspoed nie, nee, jy moet die omstandighede verstaan om uiteindelik die uitkoms te waardeer. Die boek het iets baie sterker weerspieël – hoop. Jare later, steeds met baie verwerping, maar ook baie aanvaarding, het hoop uit die liefde geblom. En ongelukkig kan ek nie meer deel nie, jy sal die boek moet lees vir meer. 

So; die proses.

Ek het my eerste rof manuskrip in een jaar klaargemaak. Ek het verskillende gedigte bymekaar gesit en gedink dit maak ‘n wonderlike boek, ‘n kombinasie van verskillende stories wat ‘n gesprek vorm rondom ‘n proses. Dit het nie gewerk nie. Ek het dit na ‘n moontlike redigeerder gestuur, asook ‘n vriendin en ander mense wat ek vertrou het om te help. Almal was deurmekaar en nadat ek dit weer gelees het, was ek ook deurmekaar. Dit was te lank vir ‘n eerste digbundel. So ek het weer van voor af begin. Ek het my hele boek uitmekaar gehaal en ‘n nuwe storie ontdek. Nog ‘n jaar het verby gegaan.

Ek het deur intense navorsing gegaan om die regte redigeerder te kry vir my boek aangesien dit hoofsaaklik in Afrikaans is (dit sal binnekort vertaal word in Engels) en hierdie was ‘n tawwe proses. Ek was menigte male teleurgesteld, die rede hiervoor – my boek was of misverstaan, of die dienste waarvoor ek betaal het was nie wat ek aanvanklik aanvaar het nie, of die advies wat ek voor gevra het was totaal en al geignoreer. Ek het uiteindelik ‘n redigeerder en proefleser ontdek, sy is wonderlik en het my baie gehelp om my boek reg te kry vir publikasie. Dit het langer gevat as wat ek gedink het – ek dink omdat ek nuut is in die wêreld het ek nie verstaan hoe lank dinge moet vat nie, so ek was ongeduldig. Maar ons het uiteindelik die boek gekry waar dit moet wees. Ons het ons eie sterk opinies gehad oor sekere dinge, maar ek glo dit was so nodig omdat dit my ook uitgedaag het om dinge te aanvaar wat beter kan werk asook om nie sekere goed te verander wat ek dieselfde wou hou nie. 

Die title. Dit het virewig gevat. DIt was so ‘n ‘mission’ om die regte titel te kies. Hierdie is ‘n blog op sy eie wat ek in tyd sal deel.

Ek het die beste grafiese ontwerper gekry om my te help met die buiteblad, formaat en uitleg. Iemand wat werklik verstaan het waaroor die boek gaan en kon dit visueel uitbeeld. Dit was die maklikste deel van die proses vir my. My advies sal wees, maak seker jy kry die regte persoon.

Laastens, ek het besluit om ‘n ander roete te vat met die laaste stap – publikasie. Ek het nog altyd gedroom om deur ‘n publikasie huis te gaan soos my helde – Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach ens. Maar ek is ook ‘n realis en verstaan dat dit dalk nie moontlik gaan wees nie (dalk eendag). Deesdae moet jy of iemand ken, iets wen of iemand bekend wees – en ek is nie. So ek gaan voort met self-publikasie. En ook iets kontroversieël – ‘n ‘Silent Launch’. Ek sal meer deel oor al die mini-avonture in blogs, kursusse en boeke wat kom. 

Vir nou, geniet ek die pad om ‘n self-gepubliseerde outeur te word. Om my eerste boek aan die wêreld bekend te stel en die woorde te laat gaan om ontvang te word in watokal manier.

Ek hoop ek kan jou inspireer om dieselfde te doen, as dit nie is om te publiseer nie, dan om jou te motiveer om nie op te gee op jou drome nie. Dit kom van ‘n ‘procrastinating’, dekade-dromer, ‘closet poet’, en ek kon die eerste stap vat in ‘n lewenslange droom. En dis nog net die begin.

Hou ‘n ogie op my webwerf en sosiale media vir wanneer die boek uit is!

Back to blog