Die pad na self-publikasie - Deel 2: Hoekom kleurvol?

Die pad na self-publikasie - Deel 2: Hoekom kleurvol?

Soos ek gedeel het in Deel 1 van my storie, die boek gaan oor meer as net die liefde wat mekaar gevind het. 'n Verbode liefde, gevorm deur verskillende kleure. Dit strek verder en dieper as wat die liefde gedink het dit kon gaan. En dit het ook harte verder gestrek as wat hul gedink het hul kon.

Indien jy nie die eerste blog gelees het nie - hier is 'n gedeelte:

"Kom ons 'fast-forward' na die rede hoekom ek my eerste boek geskryf het. En die 'rollercoaster' waarop ek was tot op hierdie punt. Ek het my mens gevind, die liefde waaroor ek nog altyd gedroom het en my hele wêreld het verander. Die liefde was anders, dit het my uitgedaag en laat bevraagteken wat ek regtig in glo. En dit was teen wat ek geleer was. Ek het besluit om me die liefde te hardloop, en 'n deel van myself op te offer, 'n deel wat ek nie meer herken nie. Jy sien, die liefde was nie welkom nie omdat dit anders lyk as die liefde wat jy in my wêreld sou vind. En dis hoekom ek gekies het om my wêreld te verander na die een waarvan ek wou deel wees. 

Om die bogenoemde te verstaan, kort jy 'n bietjie meer detail. Die liefde wat ek gekies het, was 'n kombinasie van twee verskillende kleure, dit was nie aanvaarbaar nie en het gelei na 'n verlies van baie verhoudinge. Dit het ook gelei na moeilike gesprekke, harde woorde en ongemaklike fisiese ontmoetings. En in ruil lewer dit 'n boek op. Maar die boek gaan nie net oor die moeilike tye en teëspoed nie, nee, jy moet die omstandighede verstaan om uiteindelik die uitkoms te waardeer. Die boek het iets baie sterker weerspieël - hoop. Jare later, steeds met baie verwerping, maar ook baie aanvaarding, het hoop uit die liefde geblom. En ongelukkig kan ek nie meer deel nie, jy sal die boek moet lees vir meer."

Hierdie storie is baie na aan my hart. Dis 'n storie waar hoop verskillende kleure bring in 'n wêreld wat nie heeltemal gereed was nie - dit was nie gereed vir die liefde nie. 'n Storie waar twee onwaarskynlike wêrelde bots en ontwrigting bring. Die liefde skyn lig op geskiedenis, identiteit, pyn, verwarring, aanvaarding, onvoorwaarlike liefde en uiteindelik - hoop. Die hoop is kleurvol, met verskeie elemente van kleur. 

Ek het die boek geskryf om al die elemente te deel - nie net die seer en 'adversity' nie, maar ook die mooi en die aanvaarding. Die prag en liefde, in soveel verskillende vorme. Dis belangrik, want die mooi is sterker as die seer, dit sal altyd wees. 

Ek wou ook deel wat dalk moeilik is vir party om te lees, maar nodig is om te hoor. Dit is 'n moeilike onderwerp om sekere tafels en soms 'n onderwerp wat nie welkom is nie. Dit bring in sekere harte moeilike emosies, dit bring ook vraagtekens oor hoe ons regtig dink. Jy gaan soms deur die lewe en dink alles is soos dit moet wees. En dan kom iets soos die liefde oor jou pad, en kom jou hele wêreld, al jou mense en dit waarin jy gedink het jy glo, tot 'n stilstand. 

Daar is ook dele van die boek wat jou onkant vang, met stories en diverse perspektiewe. Dingle is nie altyd soos wat jy dink dit is nie - jou opinie en ervaring kan verskil, maar dis nodig om al die kante van stories te ken om ook jou hart se binneste te bevraagteken. 

Al ons stories gesamentlik bring 'n baie gekompliseerde uitkoms, met 'n eenvoudige einddoel. 

Sonder om die boek te 'spoil', die belangrikste wat hieruit kan kom, en ek hoop dit bring dié gevoel in jou: 

Die uiteinde van die woorde wat op jou hart val, sal hopenlik hoop in jou terugbring. 

Die Afrikaanse digbundel is binnekort op verskeie plekke beskikbaar - die opgewondenheid raak nou te veel!

Back to blog